Moederstad dans die riel
2010-09-01 08:17
Kaapstad – Die riel gaan vir die volgende paar dae in die Moederstad gedans word. En ook die hasiestap, die volstruisdans en die IKhapara.
Dié tradisonele danse is springlewendig en gesond en in die hande van jong mense wat dit in ’n verhoogproduksie laat voortleef.
Die première van Children of the Mist , ’n produksie wat al hierdie danse vervat, word vanaand in die Kunstekaap-arena aangebied.
Daarna word dit tot 4 September hier opgevoer.
Die Griekwa-Ratelgat-ontwikkelingstrust van Vredendal se dansers, by die dertig van hulle tussen 9 en 20 jaar oud, sal tien van die eeue oue danse uitvoer as deel van ’n bekendstelling van die Griekwa-kultuur.
Die ontwikkelingstrust speel ’n leidende rol om mense oor die Griekwa in te lig, maar ook om die Griekwa-kultuur te bewaar.
Die danse word uitgevoer op maat van musiek wat met tradisionele instrumente gemaak word. Ook deel van die program is vertellings oor die oorsprong van die Griekwas en hoe hulle byna soos “kinders van die mis” verdwyn het.
Volgens me. Valerie Mentoor, koördineerder van die junior dansgroep, volg die program uit ’n gesprek met mnr. Alfred Magwaca van die Kunstekaap se inheemse kunstedepartement. Die ontwikkelingstrust se doelstellings is in pas met dié van die departement.
Ter viering daarvan dat die Griekwas die plaas Ratelgat (ook bekend as Luiperdskop) teruggekry het, word daar jaarliks op 11 Mei Ratelgat-dag – of Griekwa-volksdag – hier gevier.
Deel van die feesvierings is tradisionele danse, wat dikwels bloot rieldanse genoem word. Tradisionele tydverdrywe, baie wat soortgelyk is aan boeresport-items, word ook gespeel. Daar is ook ’n koor wat in tradisionele Khoi sal sing. Gehore sal met Children of the Mist ’n smakie van hierdie feesvierings kry.
Al die aktiwiteite val onder die Ratelgat-ontwikkelingstrust met mnr. Thys Mentoor as die hoofkoördineerder van die Lewende Museum-projek.
Volgens Valerie Mentoor is daar groeiende belangstelling onder jonger mense in die gemeenskap om deel van die dansgroepe te wees.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger