Model gesoek ná sy glo drywer aanrand
2010-03-03 10:01
New York – Die Britse supermodel Naomi Campbell word deur die New Yorkse polisie gesoek vir ondervraging nadat sy glo haar bestuurder aangerand het.
Volgens die polisie word die 39-jarige model daarvan beskuldig dat sy haar bestuurder van agter af geslaan het, wat veroorsaak het dat sy kop die stuurwiel tref.
Teen die tyd wat die polisie opgedaag het, was Campbell nie meer op die toneel nie.
“Die drywer het gesê die bloukol en swelling onder sy regter oog is deur haar veroorsaak,” het die polisie gesê. “Ons wil met haar praat.”
Volgens die model se woordvoerder sal die polisie Campbell se samewerking kry.
Dis nie die eerste keer wat dié supermodel van aanranding aangekla word nie.
In 2008 is sy met 200 uur se gemeenskapsdiens gevonnis nadat sy twee polisiemanne aangerand het toe sy agterkom dat ‘n lugredery haar baggasie verloor het.
Sy het ook onder andere vir vyf dae lank vloere gemop en toilette skoongemaak nadat sy haar huishulp met ‘n selfoon gegooi het.
- Reuters