Mnr. SA woedend oor rooftog
2011-07-13 09:10
Johannesburg – Die woede het deur hom gepols terwyl ’n rower hom met ’n rewolwerkolf teen die bors stamp en sy besittings geëis het, het Adriaan Bergh, vanjaar se Mnr. Suid-Afrika, Dinsdag vertel.
Bergh (24) is eergisteraand om 19:15 deur vier mans van sy beursie en selfoon beroof tydens ’n gewapende rooftog by die Nando’s-restaurant in die Leaping Frog-inkopiesentrum in Fourways, Johannesburg.
Die rooftog het tussen vyf en tien minute geduur en die rower het volgens Bergh daarna rustig in die straat afgeloop met die buit by hul baadjies ingedruk. “Eers toe ek op hulle gil om my goed terug te gee, het hulle begin hardloop,” het Bergh gesê. “Ek was baie, baie kwaad.”
Bergh, ’n student van Bela-Bela in Limpopo, sê hy was besig om te eet en koerant te lees toe die mense in die restaurant begin gil. “Toe ek opkyk, was twee mans met ’n rewolwer besig om in die winkel in te storm.
“Almal het platgeval. Ek was verstom en het bly sit totdat ’n rower op my afgestorm het.”
Nog twee rowers het intussen by die ingang gaan staan. “Hy wou my selfoon gryp en ek het geweier om dit vir hom te gee. Ek het opgestaan en hy het met die rewolwerkolf teen my bors gestamp en na my foon beduie. Hier het ek besef wat besig is om te gebeur, is ’n werklikheid.”
Sy beursie en selfoon is by hom afgevat. “’n Mens voel so kwaad en so magteloos. Hulle is kleiner outjies as ek, in ’n regverdige fight sou ek gewen het.”
Volgens ao. Sandra Jacobs, polisiewoordvoerder, is niemand in die rooftog beseer nie en geen skote is afgevuur nie. Die rowers het met ’n onbekende bedrag geld weggekom. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Nando’s het in ’n verklaring gesê twee kliënte was tydens die rooftog in die restaurant.
Bergh het gesê die gewelddadige land waarin Suid-Afrika verander, is onaanvaarbaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld