Mnr. SA ‘wil ’n goeie rolmodel vir jeug wees’
2010-03-15 07:11
Richard Roberts, Die Burger
Port Elizabeth - Mnr. PE 2008, Denver Burns, spog nou met ’n splinternuwe titel... dié van Mnr. SA.
Burns (25) van Broadwood in die Baai is Saterdagaand by die Silver Star-casino in Johannesburg as Mnr. SA gekroon. Hy was een van 12 finaliste.
Burns, ’n prokureur, keer vandag terug na Port Elizabeth waar hy oor sy nuwe verantwoordelikhede gaan besin.
“Ek weet nog nie hoe ek my rol as Mnr. SA by my lewe gaan inpas en hoe ek dit gaan hanteer nie,” het hy gister gesê.
“Ek is baie opgewonde oor die groot prestasie.
“Ek het nooit eens gedink dat ek so ver in die kompetisie gaan kom nie.”
Volgens hom was die kompetisie taai en was sy mededingers sterk, met unieke en goeie karaktertrekke.
“Ek was kalm totdat die senuwees begin knaag het toe ek Saterdag by die kompetisie opgedaag het.”
Burns was positief dat hy ’n sukses van die kompetisie sal maak, danksy die ondersteuning van sy ouers, sy suster en haar man.
“My vriende het my ook goed ondersteun en vandat ek gekroon is, het nóg sowat 70 mense op Facebook my as ’n vriend uitgenooi.”
As Mnr. SA is Burns nou ook die gelukkige eienaar van ’n viertrekvoertuig wat hy in die kompetisie gewen het.
“Ek is baie opgewonde oor my pryse wat ek nog nie eens kans gehad het om oop te maak nie.”
Hy het gister sy eerste foto-sessie as Mnr. SA by die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria gehad.
“Ek hoop dat ek (as Mnr. SA) die jeug sal kan leer om ’n positiewe leefstyl te volg.
“Ek wil graag ’n goeie rolmodel vir hulle wees.”
- Die Burger