Minister nie beïndruk met Jamie Oliver
2010-07-01 01:35
Londen – Die nuwe Britse minister van gesondheid is glo glad nie beïndruk met die bekende sjef, Jamie Oliver, se planne om skole in Brittanje se spyskaarte meer gesondheidsbewus te maak nie.
Andrew Lansley het glo aan die Britse Mediese Organisasie gesê dat Oliver se veldtog om meer voedsame disse aan skoolkinders te verskaf net sal veroorsaak dat kinders nie meer by die skool sal wil eet nie.
Oliver het sedert 2004 met ‘n veldtog begin om skoolkinders se eetgewoontes te verbeter met gesonde disse by skole se kafeterias.
“Om heeltyd vir mense te sê wat hulle moet eet, doen meer kwaad as goed,” het Lansley glo gesê.
Oliver is na bewering glad nie in sy skik met Lansley se kommentaar nie en het dit beskryf as ‘n belediging vir die dames wat die disse voorberei by die skole.
Volg nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP