Mike Tyson kry Australiese visum
2012-10-10 13:32
Wellington, Nieu-Seeland – Australië het Woensdag 'n visum aan Mike Tyson toegestaan.
Dít kom 'n week nadat die voormalige swaargewig-bokskampioen verbied is om Nieu-Seeland binne te gaan weens ‘n skuldigbevinding aan verkragting in 1992.
Beamptes het versigtig die voordele en nadele van sy besoek opgeweeg en sy karakter, gegewe sy kriminele verlede, voordat 'n besluit geneem is, het Cian Manton, 'n woordvoerder vir Australië se departement van immigrasie en burgerskap, gesê.
Sy het gesê dit is die eerste keer dat Tyson vir 'n visum na Australië aansoek doen en hy was gewaarsku die voorreg kan teruggetrek word indien hy enige wette oortree.
"Gegewe die rede vir sy besoek en die feit dat hy nie lank gaan bly nie, het ons die risiko dat hy die wet sal oortree as baie laag gesien," het Manton gesê.
Die vermaaklikheidsvisum wat aan Tyson toegestaan is, dek die duur van sy vyfdaagse Australiese toer wat volgende maand begin.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP