Mick Jagger-liefdesbriewe vir R2,6 milj. verkoop
2012-12-13 13:41
Londen – 'n Reeks liefdesbriewe wat Mick Jagger in die 1960's aan 'n muse geskryf het, het £187 250 (sowat R2,6 miljoen) op 'n veiling in Londen gehaal.
Die afslaer Sotheby’s het gesê 'n privaat versamelaar, wat per telefoon gebie het, het die Rolling Stones-sanger se 10 briewe aan die sangeres Marsha Hunt opgeraap.
Hunt is 'n Amerikaans-gebore sangeres en was die inspirasie vir die Rolling Stones se 1971-treffer "Brown Sugar". Sy was ook die ma van Jagger se eerste kind.
Die briewe, wat handel oor alles van die maanlanding tot John Lennon en Yoko Ono, is in 1969 vanaf die stel van Jagger se film Ned Kelly in Australië geskryf.
Die briewe sou na verwagting tussen £70 000 (sowat R977 000) en £100 000 (sowat R1,3 miljoen) op die veiling haal.
Sotheby's se boekspesialis, Gabriel Heaton, het gesê die briewe onthul 'n "poëtiese en selfbewuste 25-jarige met 'n wye verskeidenheid van intellektuele en kunstige belangstellings".
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP