Michael se pa dagvaar dokter
2010-03-29 21:24
Los Angeles – Michael Jackson se pa dagvaar nou die ‘koning van pop’ se dokter.
Hy beweer dat dr. Conrad Murray Michael se dood veroorsaak het, omdat hy aan hom medikasie gegee het en ook omdat hy hom nie vroeër by ‘n hospitaal gekry het nie.
Dié hofsaak kom slegs dae nadat verklarings bekendgemaak is dat Murray pogings om Michael by te bring gestop het om medikasie wat hy aan die popster gegee het bymekaar te maak.
Hy het ook versuim om die nooddienste betyds te kontak omdat hy eers die kamer skoongemaak het om van enige bewyse ontslae te raak.
In hofdokumente beweer Michael se pa verder dat die dokters in die noodkamer dit kortliks reggekry het om Michael se hart weer aan die gang te kry en ook om ‘n flou polsslag vir ‘n paar minute te herstel. Hulle kon dit egter nie handhaaf nie.
“Die verslae dat Michael ‘n hartklop gehad het, is waar,” het Brian Oxman, ‘n prokureur vir Joe Jackson, Michael se pa gesê.
“Maar die probleem is, Michael was reeds lankal weg.”
Murray staar reeds klagtes weens Michael se dood in die gesig.
Die regsgeding beweer ook net ure voordat Jackson die medikasie gegee was, was Murray in ‘n kroeg gesien alkoholiese drankies drink.
Oxman het bewerings ontken dat die hofsaak nog ‘n poging deur Joe Jackson is om deel te wees van sy seun se beroemdheid.
“Joe Jackson wil sien dat geregtigheid geskied.”
- Sapa-dpa