‘Michael Jackson self vir sy dood verantwoordelik’
2011-09-28 10:31
Los Angeles – Dr. Conrad Murray se regspan het in die hof aangevoer Michael Jackson is vir sy eie dood verantwoordelik, het Cover Media berig.
Dié bewerings is Dinsdag op die eerste dag van die verhoor tydens openingsverklarings gemaak.
Murray staan tereg op ‘n klag van onvrywillige manslag. Hy het skuld ontken.
Volgens Ed Chernoff, Murray se prokureur, het Jackson homself die dodelike dosis Propofol toegedien wat sy eie dood veroorsaak het.
“Wetenskaplike bewyse sal toon toe dr. Murray die kamer verlaat het, het Jackson self die dosis Propofol geneem. Dit tesame met die Lorazepam het ‘n perfekte storm in sy liggaam veroorsaak wat hom onmiddellik laat sterf het,” het Chernoff in sy openingsrede gesê.
“Op 25 Junie was Michael Jackson vir 10 ure frustreerd omdat hy nie kon slaap nie. Hy was frustreerd dat sy dokter geweier het om hom die dwelmmiddel te gee wat hy wou hê.
“Hy het dit gedoen sonder sy dokter se medewete of toestemming en teen sy dokter se bevele. Hy het iets gedoen wat sy eie dood veroorsaak het. Toe dr. Murray in die kamer kom en aan Michael raak, was daar niks wat hy kon doen om hom by te bring nie; daar was geen dokter, geen paramedici of masjien wat hom kon bybring nie. Hy het onmiddellik en so vinnig gesterf dat hy nie eens kans gehad het om sy oë toe te maak nie.”
Jackson se ma, Katherine, sy pa, Joe, sowel as sy broers en susters het die hofsitting in Los Angeles bygewoon. Die familie het almal swart uitrustings aangehad.
Murray het ook in trane uitgebars terwyl sy regspan hul verklaring gelees het.
Die staat het vroeër ‘n stemopname van Jackson in die hof gespeel waar daar duidelik gehoor kan word dat hy onder die invloed van dwelmmiddels is.
Die staat voer aan Murray het geweet in watter toestand Jackson was en wat hy aan die sanger gedoen het toe hy die dwelmmiddel aan hom gegee het om hom te help slaap. Die dwelmiddel moet glo slegs aan pasiënte tydens operasies gegee word om hulle onder verdowing te plaas.
– Volg Nuus24 op Twitter.