Michael Jackson se dogter ook nou 'n filmster
2011-12-09 14:35
Los Angeles – Michael Jackson, die ontslape Koning van Pop, se 13-jarige dogter Paris het haar eerste rol in 'n rolprent losgeslaan.
Sy gaan in die animasiefilm Lundon's Bridge and the Three Keys verskyn, wat werklike sowel as animasiekarakters sal bevat.
Alhoewel haar familie wou hê sy moet wag totdat sy 18 is voordat sy met haar loopbaan begin, het Paris glo haar 81-jarige ouma Katherine oorreed om in te stem.
Paris het glo aan haar ouma gesê die film dra 'n boodskap wat haar pa sou waardeer.
'n Bron het aan The Sun-koerant gesê Paris se karakter in die film fokus op haar sterk liefde vir haar pa.
Paris volg in die voetspore van haar pa, wat op die ouderdom van agt bekend geword het toe hy in die familiegroep The Jackson 5 gesing het.
Jackson, wat in 2009 dood is weens 'n oordosis van die sterk verdowingsmiddel propofol, het op die ouderdom van 20 in sy eerste film, The Wiz, verskyn.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.