Michael Douglas se seun met dwelms in tronk betrap
2011-12-20 21:30
New York – Cameron Douglas, seun van die Oscar bekroonde Michael Douglas, is met dwelms in die tronk, waar hy tans 'n vonnis vir dwelmhandel uitdien, betrap.
Douglas jnr. is verlede jaar in April vir vyf jaar tronk toe gestuur, maar is Dinsdag weer in besit van dwelms betrap.
Die 33-jarige het voor sy verhoor wat Woensdag plaasvind, 'n brief aan regter Richard Berman geskryf waarin hy pleit dat die regter hom begenadig.
Volgens 'n dokument in sy hofverslag, skryf Douglas aan Berman dat verslawing hom "beroof het van 'n lewe wat soveel belofte gehad het."
Douglas jnr., voorheen 'n ambisieuse akteur, is in Augustus in 'n New Yorkse hotelkamer met groot hoeveelhede metamfetamien in sy besit in hegtenis geneem.
Aanklaers het aangevoer dat hy groot hoeveelhede van die dwelm verkoop het, terwyl hy self ook daarvan gebruik het en dat kontantbetalings per koerier na 'n Kalifornië hotel gestuur is.
Hy is voorheen in 1999 en 2007 vir dwelmbesit tronk toe gestuur.
Volg Nuus24 op Twitter.