Michael Bublé kom toer in SA
2011-12-06 10:04
Kaapstad – Die Kanadese sanger Michael Bublé gaan sy Crazy Love-toer na Suid-Afrika bring met die eerste vertoning wat in Kaapstad sal plaasvind, het Big Concerts op hul Facebook-blad bekendgemaak.
Bublé sal altesaam vier vertonings in Suid-Afrika hou.
Hy sal op 1 en 2 Mei 2012 by die Grand Arena, GrandWest te sien wees en op 5 en 6 Mei 2012 by die Superbowl in Sun City.
Bublé se nuwe album, Christmas, het reeds die vier miljoen-kerf verbygesteek. Hy het ook reeds meer as 30 miljoen albums wêreldwyd verkoop – waaronder 'n halfmiljoen in Suid-Afrika.
Die Crazy Love Tour is Bublé se grootste toer tot op hede en aanhangers kan uitsien om van sy treffers soos “Home,” “Everything,” “Cry Me a River,” “Feeling Good,” en “Always On My Mind” te hoor.
Kaartjies vir Bublé se vertonings sal vanaf 8 Desember by Computicket beskikbaar wees. Kaartjiepryse vir sy vertonings in Kaapstad wissel tussen R425 tot R885 en in Johannesburg tussen R543 tot R970.
Vir meer inligting besoek www.michaelbuble.com.
– Volg Nuus24 op Twitter.