Mej. SA voorheen haar kroon kwyt
2010-12-13 22:53
- Beeld
Die nuwe Mej. Suid-Afrika is drie jaar gelede as Mej. Aarde SA “onttroon” omdat sy nie haar kontraktuele pligte nagekom het nie.
Bokang Montjane (24) moes haar Mej. Aarde SA-kroon in 2007 teruggee nadat sy versuim het om vir sosiale verpligtinge op te daag en verskeie take as verteenwoordiger uit te voer, het me. Catherine Constantinides, nasionale direkteur van Mej. Aarde SA, gister gesê.
“Ek hoop sy het uit haar foute geleer, want indien nie, kan die land nie bekostig om haar as Mej. SA-verteenwoordiger te hê nie.”
Montjane van Limpopo is eergisteraand in Sun City as Mej. SA gekroon.
Dhesha Jeram en Bianca Coutinho is onderskeidelik die eerste en tweede prinses.
“Om die kroon van haar weg te vat, was ’n baie onaangename taak en iets wat ons glad nie wou doen nie,” het Constantinides gesê. “Ná verskeie waarskuwings het dit egter ’n punt bereik waar ons nie anders kon as om te besluit sy moet haar titel prysgee nie.
“Mej. Aarde gaan oor jong vroue wat ’n merkbare verskil kan maak: Vroue wat omgewingswerk doen en só tot ons land bydra. Sy is veronderstel om ’n rolmodel te wees, maar Montjane het ons verkeerd verteenwoordig.”
Montjane het gister vanuit Sun City gesê sy hét uit haar foute geleer en is opgewonde oor die jaar wat voorlê.
“Ek het al ander krone ook gedra en het uit elke ervaring iets geleer wat my die mens gemaak het wat ek vandag is. Ek het beslis al hier en daar foute gemaak, maar as Christen glo ek God plaas jou soms in situasies wat jou dwing om te groei.
“Alles het tot dié oomblik, om ambassadeur van my land te wees, bygedra en ek weet ek kan dit doen.”
Volgens Londi Sibisi, woordvoerder van Sun International wat die plegtigheid geborg het, moes Montjane die Mej. Aarde SA-kroon in 2007 prysgee weens botsings met haar eksamenrooster. Sy het daardie tyd korporatiewe kommunikasie aan die Universiteit van Johannesburg gestudeer.
- Volg Nuus24 op Twitter.