Mej. SA sê sy bly wie sy is
2011-12-16 07:35
Johannesburg – Melinda Bam, die eerste Afrikaanssprekende Mej. Suid-Afrika in nege jaar, is ’n Pretoria-meisie, Bloubul-ondersteuner en braaivleis-liefhebber.
“Gedurende die kompetisie was ek niemand anders as wie ek werklik is nie, my vriende sê ook so. Ek loop steeds kaalvoet, speel met my honde en draf in die strate.”
Bam (22) sê mense in Suid-Afrika moet 16 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing meer waardering hê vir mekaar. “Almal van ons is mense wat foute maak en daar moet dadelik vergifnis wees sodat almal kan saamwerk tot iemand anders se welvaart.”
Sy erken dat dit wensdenkery is om sulke onmiddellike vergifnis binne ’n jaar te wil bewerkstellig.
“Alles wat ek aanpak, moet volhoubaar wees. Ek wil drie groot projekte aanpak wat dié probleem sal help oplos. Ek wil ’n leierskapsprojek begin waar jong mense weer by die ouer generasie leer. Hulle het die land gebring tot waar dit nou is. Daar is ’n ondersteuningsprojek wat ek in Alexandra, Johannesburg, wil begin en ek sal ook ’n sportprogram by skole instel wat nie bevoorreg genoeg is om dit reeds te hê nie.”
Bam droom inderdaad groot, want haar ma het haar só geleer, sê sy. Sy doen ’n vreugdedans wanneer sy vertel dat haar studie, ’n B.Com.-graad in bemarking en kommunikasie aan die Universiteit van Pretoria, nou afgehandel is en dat dié kennis haar goed te pas sal kom.
“My ma is die gospel-sangeres Wanda de Kock-Bam en sy het my en my sussie, Melissa, geleer om nooit klein te droom nie.”
Wanda het haar jongste dogter op skool nie toegelaat om aan ernstige skoonheidskompetisies deel te neem nie.
“Daaroor is ek nou bly. Ek werk in ’n bedryf waar jy jou voet moet kan dwars sit.
“Jy moet jou kop reg op jou lyf hê en vooraf besluit waar jou perke is. Hoewel ek dink ’n vrou moet sexy wees en daar is niks verkeerd om in ’n swembroek te poseer nie, is ek eintlik baie konserwatief. Daar is sekere goed wat ek net nie sal doen nie.”
Sy is versigtig om presies te sê waar dié grense lê en sê net: “Ek sal myself nooit op ’n wyse laat voorstel wat teen my waardes en norme indruis nie.”
Niemand wat Bam nou in fyn platformsandale en ’n vroulike sonrokkie sien, sal kan raai dat sy van kleins af ’n “tomboy” was, eerder karretjies gespeel het en haar sussie se Barbie-pop se hare stompaf gesny het nie.
“Dit was in 1997, toe agt jaar oud, dat ek vir die eerste keer saam met my ouma na Mej. Suid-Afrika gekyk het. Dit het my dalk bietjie meer in ’n meisie-meisie verander en ek het geweet ek wil eendag dié kroon dra.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld