Meestergereg sink Lungile se bootjie
2012-07-04 08:47
Kaapstad – Slegs vier deelnemers ding nou mee om die gesogte MasterChef-titel nadat die 21-jarige Lungile Nhlanhla van Durban uitgestem is.
"Ek verlaat die kompetisie en kan nou as 'n kok gesien word, nie net die jong deelnemer wat haarself heeltyd moet bewys nie. Ek verlaat (die kompetisie) as 'n volwasse jong vrou. Dit was regtig 'n wonderlike pad van selfontdekking," het 'n betraande Lungi ná die episode gesê.
Die wêreldbekroonde sjef Michel Roux Jr. het die top-vyf in vervoering gehad in die MasterClass toe hy sy familierestaurant, Le Gavroche, in Londen se spesialiteitsgereg voorberei het. Dié gereg is gevulde artisjokke met hoenderlewers, hoendermousse en truffels in 'n Madeira-sous.
Die top-vyf moes dié gereg herskep en dit met 'n ballotine van hoender voorsit.
Manisha Naidu was baie bekommerd en was aan die einde van die toets nie baie tevrede met haar gereg nie. Sarel het 'n resue-fout begaan om pikantrissies (peppadews) vir sy hoender-ballotine te gebruik. Sue-Ann Allen se idee van 'n roomkaas-vulsel het haar ook in die steek gelaat.
Deena Naidoo se gereg was die beste een van die dag en hy 'n klokkie gekry wat hom 'n voordeel in die volgende ronde besorg. Hy kan dié klokkie een keer lui en enige van die beoordelaars raad vra oor hul geregte.
MasterChef SA word Dinsdae om 19:30 op MNet uitgesaai.
Suid-Afrika se eerste MasterChef sal 'n kontantprys van R250 000 ontvang, 'n Hyundai Elantra, 'n sewe dag lange reis na Italië, 'n sommelier-kursus, klasse by 'n bekroonde keldermeester, wyn en sy of haar eie restaurant
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24