Meer sekuriteit vir Roberts
2009-09-28 02:11
Mirzapur – Jong seuns het Sondag bome uitgeklouter en inwoners het op dakke geklim in ‘n klein stowwerige dorpie in die Noorde van Indië om ‘n kykie van die Academy-toekenning wenner Julia Roberts te kry.
Roberts is besig om haar nuwe fliek, Eat, Pray, Love hier te verfilm.
Talle polisiemanne met bamboesstokke, privaat wagte en sekuriteitswagte moes nuuskierige toeskouers beheer terwyl Roberts op die stel, wat in die dorpie Mirzapur, 65km suid van Nieu Delhi opgestel is, rondloop.
Groot swart skerms is opgesit en het die stel teen televisiespanne en fotograwe beskerm.
Roberts het ‘n turkoois tuniek en los pajamas aangehad, die tradisionele klere wat deur miljoene Indiese vroue gedra word.
In die fliek speel sy ‘n Amerikaanse vrou wat ‘n moeilike huwelik agterlaat en op ‘n self-ondersoekende reis gaan.
Koerante en televisiestasies in Indië dek elke beweging van Roberts sedert sy 10 dae gelede met haar drie kinders in die land aangekom het.
Sekuriteit is baie streng en sowat 50 plaaslike polisiemanne en sekuriteitswagte is aangestel om die ster te beskerm.
Die verfilming het ‘n paar dae gelede begin en het afgeskop met gebede van ‘n Hindoe-priester.
Die fliek is ‘n Brad Pitt-produksie en is onder die regie van Ryan Murphy.
Van die ander akteurs is Javier Bardem, Viola Davis, Richard Jenkins en Billy Crudup.
Sapa