Media24-hoof moet hoes ná Jurie Els-artikel
2011-12-08 08:46
Kaapstad – Die Wes-Kaapse hooggeregshof het gister die belangrikheid van ’n onafhanklike media uitgelig toe hy me. Esmaré Weideman en Media24 weens minagting van die hof gevonnis het.
Weideman, voormalige redakteur van Huisgenoot, You en Drum, en nou uitvoerende hoof van Media24, is ’n boete van R15 000 opgelê en Media24 R60 000.
Weideman het ná regter Daniel Dlodlo se vonnisoplegging haar regsverteenwoordigers omhels en die hofgebou met ’n glimlag verlaat.
“Ons aanvaar die uitspraak van die hof en ons is verlig dat hierdie gedeelte van die geskil nou bygelê is,” het Lutfia Vayej, hoof van korporatiewe kommunikasie, namens Weideman en Media24 gesê.
Dit is die eerste saak in sy soort in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis.
Weideman is verlede jaar in die appèlhof in Bloemfontein aan minagting van die hof skuldig bevind weens die publikasie in Februarie 2008 van ’n artikel oor die sanger Jurie Els. In dié artikel het die sanger Robbie Klay volledig vertel van sy beweerde seksuele molestering deur Els.
Dlodlo het gesê die oortreding is van ’n ernstige aard. Hy het met Els se regspan saamgestem dat individue en regsentiteite wat die media beskerm, verantwoordelik moet optree. Hy het bygevoeg dat die land en die wêreld in sy geheel armer sonder die media sal wees.
“Die media vorm die hoeksteen waarop enige samelewing, land of vasteland gebou word. Dit moet genoem word dat die onafhanklikheid van die media van kardinale belang is in ’n demokrasie. Dit is waarom dié onafhanklikheid in die Grondwet vasgelê en beskerm word. Die hof sal altyd media-vryheid beskerm en ondersteun.”
Weideman en Media24 moet ook Els se regskoste betaal..
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA