Matt Damon dalk in Blomkamp se nuwe fliek
2010-12-19 06:35
Kaapstad - Eers het Matt Damon die rol van Francois Pienaar in die fliek Invictus, oor die 1995-Wêreldbeker, gespeel.
Nou lyk dit of hy wéér by ’n Suid-Afrikaanse fliek betrokke gaan wees.
Onderhandelinge is blykbaar aan die gang om hom in die hoofrol van Neill Blomkamp se nuwe wetenskapfiksiedrama, Elysium, te kry.
Damon is veral bekend om sy rolle in die Bourne-reeks, geskoei op die boeke deur die skrywer Robert Ludlum.
Blomkamp het bevestig dat Elysium, wat deur Media Rights Capital gefinansier word, nié ’n opvolg van District 9 is nie.
Die storielyn van die fliek is nog ’n groot geheim, maar die aksie
gaan waarskynlik êrens op ’n planeet in die nabye toekoms afspeel.
Blomkamp het weer sy mede-Suid-Afrikaner Sharlto Copley, wat in die
hoofrol van District 9 uitgeblink het, by die nuwe projek betrek.
Blomkamp se naam word al ’n geruime tyd gekoppel aan dié geheimsinnige projek, wat nou Elysium blyk te wees.
Dit is nog onbekend in watter hoedanigheid Copley betrokke gaan
wees, hoewel daar bespiegel word dat hy die eerste akteur was wat ’n
kontrak geteken het.
Blomkamp het in Oktober in ’n onderhoud gesê hy het ’n idee vir ’n fliek en dat hy heeltemal verlief daarop is.
“Ek is seker dit gaan my volgende fliek wees; ek is 99% seker. Dit
is heeltemal oorspronklik en dis my eie storie. Dit speel af op ’n ander
planeet, maar dis cool.
“Dit is gewelddadig, baie gewelddadig, maar hopelik baie uniek ook.”
* Daar is steeds geen uitsluitsel oor of die videogreep deur
Blomkamp, wat in die iPad-uitgawe van die tydskrif Wired ontdek is,
enigiets met Elysium te doen het nie.
Dié amateuragtige video, wat die afgelope drie weke al meer as 1,1
miljoen keer gekyk is, wys twee mans wat langs die pad stop en dan ’n
dooie fetus van ’n vreemde gedierte in ’n plas water sien lê.
Die gedierte is omtrent so groot soos ’n hond en lyk soos ’n kruis
tussen ’n vark en ’n akkedis. Op die kreatuur se sy is ’n tatoeëermerk
wat lees: “18.12 AGM Heartland Pat. Pend. USA”.
Niemand kan egter met sekerheid sê of Blomkamp wel die vervaardiger
van dié video is nie, hoewel Wired hom krediet gee daarvoor. Blomkamp
self het ook nog nie ’n woord oor die video gerep nie.
Bronne: www.slashfilm.com;www.starseeker.com.
- Rapport