Mara Louw se plaasvervanger aangewys
2011-01-19 14:44
Kaapstad - Die Metro FM radiopersoonlikheid Unathi Msengana is Woensdag as die nuwe Idols-beoordelaar van seisoen sewe aangewys.
Unathi sal saam met die grompot Randall Abrahams, Gareth Cliff asook verskeie ander gasaanbieders die program beoordeel.
Volgens Lani Lombard, woordvoerder van M-Net, sal Unathi 'n vars benadering tot die realiteitsprogram bring.
"Ons wou die huidige paneel beoordelaars hersien en het 'n hele paar opsies oorweeg. Unathi is aantreklik maar ook 'n rolmodel vir baie jeugdiges."
Die sanglegende Mara Louw, wat vir die afgelope drie seisoene 'n beoordelaar was, sal nie deel van seisoen sewe wees nie.
Volgens Lombard kan nog verrassings in die toekoms verwag word.
Unathi sal haar eerste voorsmakie van die program kry wanneer oudisies op Saterdag 12 Februarie by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind.
Unathi was al twee keer vir 'n SAMA-toekenning benoem en het die verhoog al met kunstenaars soos John Legend en Youssou N'Dour gedeel.
Sy vorm tans deel van die land se grootste middagprogram saam met Glen Lewis op Metro FM.
Idols 7 sal vanaf Junie 2011 op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai word.
- Volg Nuus24 op Twitter.