Mango Groove spog met eerste konsert-DVD
2011-08-04 12:03
Kaapstad – Op die verhoog... dís waar Mango Groove eers werklik vir mense sin maak, sê Claire Johnston, die stem agter dié legendariese groep tydens ‘n onderhoud met Nuus24 by 'n koffiewinkel in Seepunt.
Hulle het eers besef mense verstaan hulle beter in dié konteks nadat hulle vir die eerste keer in die buiteland opgetree het, sê sy.
“In die vroeë 90’s was dit baie moeilik om Suid-Afrika aan die res van die wêreld te verkoop. Apartheid was besig om tot ‘n einde te kom, maar Suid-Afrika was nog nie cool nie."
In daardie jare het hulle dit as groep nie so maklik gehad in die internasionale arena nie.
In lande soos Frankryk het joernaliste allerhande vrae oor apartheid gehad, wat die groep soos wafferse politici moes beantwoord.
“Dit was nogal ongemaklik, maar wat dan sal gebeur is dat daardie selfde joernaliste wat al die vrae gevra het, ná ‘n konsert na ons toe kom en sê ‘ons verstaan nou presies waaroor die band gaan’..”
Mango Groove het in April ‘n DVD van een van hulle konserte bekendgestel. Dit is ook die eerste keer wat ‘n video-opname van een van hulle konserte kommersieël beskikbaar is.
“Ons het gereeld versoeke op ons webwerf gekry van mense wat wil weet waar hulle DVD’s van ons konserte kan koop. So toe dink ons, dis simpel dat ons dit nog nie gedoen het nie, want almal doen dit, so kom ons doen dit.
“Hopelik is dit die eerste van nog baie.”
Die konsert is einde September 2010 by Carnival City naby Johannesburg opgeneem.

Claire reken om musiek vandag te maak, is anders as wat dit in Mango Groove se begindae was.
“Toe ons ons eerste album opgeneem het, het ons na ‘n groot ateljee gegaan en dit is nog op kassette opgeneem.
“Dit was duur om dit so te doen en nie sommer enigiemand kon dit doen nie. Maar deesdae is dit baie meer gebruikersvriendelik. Dis baie goedkoper en met vandag se tegnologie kan enigiemand musiek opneem.”
Sy sê as sy die ondervinding van daardie eerste opname vergelyk met die opname van hulle nuutste album in 2009, is dit angswekkend hoe baie dit verskil en hoe maklik tegnologie die proses nou maak.
“Maar ek mis die ou groot ateljees en die kassette en goed wat verkeerd kon loop. Dis hoe ek geleer het, so ek raak nostalgies daaroor.”
Mango Groove het in 1999 besluit om ‘n blaaskans te neem – die groep het nie uitmekaargegaan nie, maar elkeen het sy eie projek gehad waarop hy gefokus het.
Claire het ook ‘n paar soloprojekte gehad wat vir haar die kans gegee het om met ander klanke te eksperimenteer.
“In daardie stadium was ek reeds vir 14 jaar in die groep so ek het gedink die tyd is reg om vir ‘n ruk iets heeltemal anders te doen.
“Ek was gelukkig genoeg om in Engeland te kon gaan werk saam met wonderlike mense. Ek het myself heeltemal uit my gemaksone verwyder en dit was skrikwekkend. Maar ek dink dit was belangrik vir my groeiproses, sonder om nou te pretensieus te klink.”
In 2004 het die groep weer ten volle aandag aan Mango Groove begin gee. Claire sê wat dit weer aangewakker het, was die begin van hulle webwerf en die aanmoedigende boodskappe wat mense daarop vir hulle gestuur het.
“Toe kom ons agter daar is nog steeds ‘n groot vraag na ons musiek. En dit was dit.”

Augustus gaan glo ‘n besige maand vir Mango Groove wees.
“Daar lê ‘n hele paar konserte vir ons voor. Ons kyk ook daarna om ‘n lekker pakket saam te stel en die DVD in Duitsland te gaan verkoop.
“Dis nogal opwindend. Ons gooi baie kreatiewe idees rond op die oomblik en kyk na hoe om dit te implementeer.”
Van moeg raak is daar ook geen sprake nie.
“Wanneer jy geld vir iets begin kry, raak dit ‘n werk en baie vinnig kan mens die vreugde wat jy aanvanklik daaruit geput het, verloor.
“Ek is gelukkig om te kan sê ek het nog nie die my passie hiervoor verloor nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Kliek hier vir meer inligting oor Mango Groove.
– Volg Claire Johnston op Twitter.