Maak reg vir Parlotones in 3D
2011-07-11 15:35
Kaapstad – Die rock-groep The Parlotones sal op 16 Julie die eerste groep ter wêreld word om 'n vertoning regstreeks in 3D na filmteaters uit te saai.
Die Parlotones se rock-teaterproduksie, Dragonflies and Astronauts, sal per satelliet regstreeks van die Teatro by Montecasino in Fourways na verskeie teaters in onder andere die VSA en ook Asië uitgesaai word.
Dié baanbreker-orkes neem dit nou 'n stap verder en gaan hul musiek aanvul met 'n toneelstuk wat op die Japanse volksverhaal The Bamboo Cutter's Daughter gegrond is. Die vertoning sal akteurs insluit met ingewikkelde kostuums en 'n stel om die 3D-ervaring maksimaal te benut.
Doug Stanley, 'n rolprentmaker en 2008 Emmy-wenner vir die program Deadliest Catch is aan die stuur van die projek.
"Waar die uitsending nie beskikbaar is in 3D nie, sal dit ook in die standaard-2D uitgesaai word. In die wêreld van 3D-flieks sal daar oor en oor na dié produksie gekyk word," het Stanley tydens ‘n mediakonferensie gesê.
Kaartjies is beskikbaar by NuMetro-teaters asook by Computicket, en kos R200.
Die vertoning is van 13 tot 17 Julie by Montecasino te sien.
– Jip.
– Volg Nuus24 op Twitter.