Ma van Schwarzenegger se kind onthul
2011-05-19 11:23
Los Angeles – Die identiteit van die ma van Arnold Schwarzenegger se liefdeskind is bekend gemaak.
Mildred Patty Buena (50), wat 20 jaar lank as ‘n huishulp en assistent by die Schwarzeneggers se huis in Los Angeles gewerk het, is die ma van die kind.
Talle Amerikaanse nuusbronne het Woensdag die vrou geïdentifiseer. Die skinderwebwerf TMZ.com het die meeste inligting oor die vrou bekend gemaak.
Schwarzenegger het Maandag erken dat hy die pa van die 13-jarige seun is nadat Los Angeles Times hom met die storie gekonfronteer het.
Die voormalige goewerneur van Kalifornië het eers onlangs sy vrou, Maria Shriver (55), van die kind in kennis gestel.
Shriver en Schwarzenegger was 25 jaar lank getroud en het saam vier kinders.
Volgens die nuutste berigte het Buena aan Schwarzenegger se kind geboorte geskenk slegs ‘n maand nadat Shriver aan die paartjie se jongste seun geboorte geskenk het.
Luidens berigte is Schwarzenegger oor die liefdeskind in kennis gestel toe die kind ‘n kleuter was.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA