M-Net kruip met ’n rooi gesig weg oor Jub Jub
2010-03-22 07:05
Johannesburg - Wanneer ’n mens droogmaak, is dit maar altyd die beste om te bieg en verskoning te vra. So is die meeste van ons van kindsbeen af geleer.
Jy doen dit selfs al is dit ’n bitter pil om te sluk. En selfs al is dit voor die hele land.
Dié reël geld skynbaar nie vir M-Net nie. Dié sit met ’n bloedrooi blos van verleentheid oor die eskapades van Jub Jub, oftewel Molemo Maarohanye, wat ’n deelnemer aan Survivor SA: Santa Carolina was.
Jub Jub is soos ’n stuk klitsgras wat aan hul broekspype vassit en waarvan hulle eenvoudig net nie ontslae kan raak nie.
Eers die verleentheid met die vals liefdadigheidsorganisasie wat al weke lank sloer, toe die vier aanklagte van moord nadat vier skoolkinders doodgery is.
Die verleentheid word ook nie deur tyd verlig nie. Benewens dat Jub Jub se bloed positief getoets is vir kokaïen en morfien, soek die skare skoolkinders in Soweto sy bloed en sal hy voor die hof moet verskyn om homself te verdedig.
Boonop vertel hy sy vertrek uit Survivor was ’n blote publisiteitsfoefie omdat M-Net meer swart kykers wou trek.
’n Mens sou verwag dat M-Net lankal ’n amptelike mediaverklaring oor die gemors sou uitgereik het. Maar nee, ’n doodse stilte heers.
Vra jy vrae, word daar op warm kole rondgedans. Kry jy uiteindelik wél antwoorde, is dit dieselfde gemompel as voorheen.
Wat Jub Jub en sy vriend in hul vrye tyd aangevang het nadat hy uit Survivor weggestap het, is nie M-Net se verantwoordelikheid nie. M-Net kan nie die skuld daarvoor kry nie.
Wat egter wél M-Net se verantwoordelikheid is, is om uitsluitsel oor ’n paar kwessies te gee.
Die eerste is die vals liefdadigheidsorganisasie wat Jub Jub op die eiland sou verteenwoordig.
M-Net het destyds gesê – en dit nou herhaal – dat die liefdadigheidsorganisasies nie vooraf gekontak is om hul geldigheid te bevestig nie omdat die uitsaaier “die identiteit van die deelnemers geheim wou hou vir die algemene publiek” en dit dus ’n “risiko was om dadelik kontak te maak” met die gekose liefdadigheidsorganisasies.
’n Mens het werklik gehoop M-Net sou in dié laat stadium al verantwoordelikheid vir sy naïwiteit aanvaar het. Dat hy minstens nou sou erken, “ja, dit wás kortsigtig van ons om die organisasies nie na te gaan nie”.
Almal weet dít kon gedoen word sónder dat enige van die glanspersoonlikhede of Survivor by die naam genoem word.
Nuwe navrae verlede week het ook nie gehelp nie. M-Net sê net dat dit aanvanklik net die wenner was wat geld vir sy/haar liefdadigheidsorganisasie sou insamel.
So? Wat het dit met enigiets te doen? Die organisasies se bestaan en geldigheid moes nogtans nagegaan gewees het!
Net nadat Jub Jub gearresteer is oor die kinders se dood, het ek twee vrae aan M-Net gestel: 1. Wat is die resultate van die ondersoek na Jub Jub se vals liefdadigheidsorganisasie? en 2. Gaan M-Net Jub Jub na die regstreekse slotepisode van Survivor nooi?
Die antwoord op eersgenoemde was dat M-Net daardie week met Jub Jub sou vergader. Die werklikheid is dat M-Net Jub Jub nooit in die hande kon kry om hom behoorlik voor stok te kry en die saak op te klaar nie.
Selfs dít is M-Net nie bereid om amptelik te erken nie. Dit word net stilletjies in die gange gefluister.
Hoekom sien niemand by M-Net kans daarvoor om dié saak in die openbaar uit te klaar en om die kanaal amptelik van Jub Jub te distansieer nie? Waarvoor is hulle bang?
Wat Jub Jub se teenwoordigheid in die slotepisode betref, kan ’n mens maar net raai dat hy in sy afwesigheid sal skitter.
M-Net is nie eens bereid om dié vraag amptelik te beantwoord nie.
- Beeld