Lyfwagte beskerm Steve ná dreigemente
2010-04-13 06:33
Heindrich Wyngaard, Die Burger
Kaapstad – Die sanger Steve Hofmeyr word nou deur lyfwagte beskerm weens onder meer dreigemente van “omgekrapte swartes” oor sy kritiek op Julius Malema, die president van die ANC-jeugliga.
Hofmeyr het gister aan Die Burger gesê hy het die laaste ruk “ewe veel beledigings as komplimente” gekry en daar is net soveel mense wat hom met die dood dreig as dié wat hom as president van die land wil sien.
Dit kom nadat dié sanger en TV-persoonlikheid skerp teen Malema uitgevaar het in ’n onlangse ope brief oor die jeugleier se opruiende uitsprake.
Hofmeyr het ook in reaksie op die wrede moord op Eugène Terre’Blanche, gewese AWB-leier, gesê Afrikaners word uitgewis in wat hy as “volksmoord” bestempel.
Ofskoon talle van sy uitlatings op die oog af ooreenstem met dié van regse groeperings soos die AWB, het Hofmeyr dit onomwonde gestel dat hy “nie ’n AWB (-ondersteuner of -lid) is nie”.
Hofmeyr is om kommentaar genader oor sy uitnodiging aan Malema om by hom vleis te braai om groter begrip te kweek, aangesien mense alte dikwels verby mekaar praat.
Rapport het Sondag berig Hofmeyr het verlede week by die Absa KKNK onder meer in ’n onderhoud gesê: “Na aanleiding van die opswepende aard van Malema se opruiende uitsprake hoor ’n mens van mense wat meen hy kan ’n teiken wees uit wraak vir die moord op Terre’Blanche.
“Sulke mense moet besef dit kan dalk soos poetic justice voel, maar geregtigheid kan dit nooit wees nie.”
Malema word ’n geruime tyd reeds deur die polisie se BBP-beskermingsdiens opgepas nadat hy genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, oortuig het sy lewe is in gevaar.
- Die Burger