Lucas Maree in hospitaal met nierversaking
2010-12-27 08:15
Die Burger
Johannesburg - Dit was “touch-and-go” die naweek, maar Sondagmiddag was die sanger en liedjieskrywer Lucas Maree weer “all smiles” – só het sy dogter Monica (27) gesê oor haar vegter-pa.
Maree het Kersdag in die waakeenheid deurgebring nadat hy Vrydagmiddag weer in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein opgeneem is.
Hy het die naweek dialise-behandeling begin kry nadat sy niere Vrydagmiddag amper ingegee het. Maree is toe in die kardiologiese waakeenheid opgeneem vir waarneming.
Hy is Kersdag na die multi-waakeenheid oorgeskuif, het mev. Esmarie Cronjé, hospitaalwoordvoerder, gesê.
Maree is net die vorige naweek uit dieselfde hospitaal ontslaan. Kanker is twee jaar gelede by hom gediagnoseer.
Maree word ook vir lae bloedsuiker, benoudheid en borspyn behandel.
“Hy is nou stabiel en voel nie te sleg nie – net baie moeg,” het Monica Sondag gesê.
Maree is glo heeltyd onder bewaking terwyl hy dialise ondergaan. Volgens Monica is haar pa positief oor die dialise en neem hy dit stap vir stap.
Hy het die naweek geweldig ondersteuning van vriende en aanhangers gekry. Besoekers het eintlik beurte gemaak om hom in die waakeenheid te gaan sterkte toewens, het Monica gesê.
“Ons (gesin) het hom vanoggend (Sondag) gesien en hy was ‘all smiles’. My pa verkies om te lag – dis net hoe hy is. Sy lewe gaan oor lag en liefde en vreugde.”
- Die Burger