Lopez nie seker of sy American Idol-kontrak gaan hernu
2012-05-18 23:00
Los Angeles – Jennifer Lopez is nie seker of sy volgende jaar terug gaan keer na American Idol nie omdat sy beplan om weer te sing en in rolprente te speel.
Lopez, wat die ma van 'n tweeling is, het vandeesweek aan die kletskoningin Ellen DeGeneres gesê sy is nie seker of sy haar kontrak as 'n beoordelaar op die televisiereeks vir 'n derde jaar gaan hernu nie.
Bronne na aan die sangeres het aan E! News gesê Lopez is "net te besig" en dis hoekom sy nie meer deel van American Idol wil wees nie.
"Dit is nou my tweede jaar. Ek weet nie of ek 'n derde jaar kan doen nie. Ek mis dit om ander dinge te doen. Dit was lekker die eerste jaar toe die babas nog drie jaar oud was, maar nou is hulle op pad skool toe. So ek weet nie," het Lopez Dinsdag aan DeGeneres gesê.
Fox-televisie, wat die gewilde program uitsaai, wou nie kommentaar lewer nie. Maar Nigel Lythgoe, uitvoerende regisseur, het aan die skinderwebwerf TMZ gesê dat die program haar terug wil hê.
Forbes-tydskrif het Lopez Woensdag as die mees invloedryke persoon in die wêreld aangewys.
Sy sal in Julie met 'n Noord-Amerikaanse toer begin en in Augustus saam met die Latynse sanger Enrique Iglesias optree.
Sy het ook drie films wat binne die volgende 12 maande vrygestel gaan word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters