Londen: Twee SABC-beamptes vas oor prostitute
2011-09-30 23:00
Johannesburg – Twee senior beamptes van die SABC is in Londen in hegtenis geneem omdat hulle nie prostitute vir seks wou betaal nie, berig The Sowetan.
Die twee mans is glo gearresteer nadat hulle nie volle bedrag, waarop hulle ooreengestem het, aan die prositute kon betaal nie.
Nadat die polisie die twee mans, wie se name nie bekend is, in hegtenis geneem het, het een van die SABC se raadslede dit reggekry om hulle uit die tronk te kry en terug na Suid-Afrika te deporteer.
Volgens The Sowetan het die twee beamptes ‘n toelae van R400 000 van die SABC ontvang vir hul reis en het dit op restaurante en klubs spandeer. Hoe die reis en die groot toelae goedgekeur is, word nog ondersoek, het ‘n bron gesê.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, het gesê hy is bewus van die reis en dat die twee beamptes op ‘n private besigheidsreis was wat nie verband hou met die SABC nie.
Die Britse hoë kommissaris wou nie kommentaar lewer totdat die saak verder ondersoek word nie.
“Ons kan nie vir julle enige inligting gee totdat ons vasgestel het wat regtig gebeur het nie,” het Isabel Potgieter, woordvoerder van die Britse hoë kommissaris aan The Sowetan gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.