Letterman steek draak met Woods
2009-12-08 11:02
New York - David Letterman het nie op hom laat wag om homself en sy gehoor met die Tiger Woods-sage te vermaak nie en skerts Maandagaand dat hy wens die gholf-ster wil hom nou ophou bel vir advies.
Dié aanbieder van die CBS-televisiekanaal se laatnag kletsprogram (Late Night Show with David Letterman) het nog lank nie sy eie skandaal agter die rug gesit nie, maar het Maandagaand sy program begin met die onderwerp, die "Tiger Woods-debakel", wat na bewering met talle vroue buite egtelike verhoudings aangeknoop het, geopen.
“Mensig, dit wil voorkom dat Tiger Woods probleme het,” het Letterman sy program geopen.
“As Woods se situasie drie maande gelede gebeur het, het ek materiaal vir ‘n jaar lank gehad,” skerts hy.
Letterman het baie aftrek van sy eerste program gekry nadat hy van verlof teruggekeer het.
"President Obama stuur troepe na Afganistan,” het Letterman gesê. “Hy beter hulle eerder na Tiger Woods se huis toe stuur," het hy gespot.
In Oktober, het Letterman erken dat hy talle verhoudings met kollegas by die werk gehad het nadat hy deur ’n regisseur by CBS News oor sy verhoudings afgepers is.
Hy het die gehoor met ‘n peiling getoets om te kyk hoeveel mense vir Woods, wat hy beskryf het as “die beste atleet ter wêreld”, ondersteun en hoeveel mense agter Letterman staan, maar dink in elk geval die mense se steun lê by die gholfspeler.
Gereelde kykers sal nie deur Letterman se uitlatings en spottery oor Woods verras wees nie, omdat hy gereeld na ander mense se sondes verwys.
-Sapa-AP