Leon Schuster nog 'springlewendig'
2012-09-17 12:05
Johannesburg – Die gewilde grapjas Leon Schuster is nog springlewendig, het hy self Maandagoggend bevestig.
Huisgenoot berig ’n lang lys van vriende en familie maak al van Saterdag seker dat Schuster nog lewe.
Dít kom nadat ’n Blackberry BBM-boodskap, wat van Saterdag af die ronde doen, beweer hy is in ’n motorongeluk dood.
“Ja, jong dis nou weer een of ander pampoen wat dink hy’s snaaks. Hy doen dit vir sy eie genot, om homself op die skouer te klop en te kan sê hy’t die land aan die praat,” het Schuster gesê.
Hy voeg by, selfs met sy geskiedenis van manewales en mense verkeerd opvryf, dat daar sekere goed is waaroor jy eenvoudig nie die gek skeer nie.
“Ek like ’n joke, dis my mees geliefkose stokperdjie, maar nie so nie. Jy spot nie met die dood nie. Dit het my familie groot laat skrik en vir my ook. Dis nie ’n lekker gevoel om te hoor jy’s dood en dan lewe jy nog nie. Dit was ’n siek grap, amper nes die Springbokwedstryd van die naweek.”
Soos die noodlot dit wil hê, het Leon Sondag waaragtig ’n klein motorongelukkie beleef. Terwyl hy saam met ’n vriend geëet het, het ’n vrou agter in sy kar vasgejaag en dit ’n “moewiese stamp in gegee” vertel hy. Maar hy is ongedeerd.
– Volg Nuus24 op Twitter.