Lee-Ann pleeg 'Twitter-selfmoord' ná wilde partytjie
2010-12-29 07:46
Kaapstad - Te midde van hewige reaksie oor Lee-Ann Liebenberg se wilde partytjie die naweek in ’n Kampsbaaise kuierplek, het dié model Dinsdag “Twitter-selfmoord” gepleeg en haar profiel van dié sosiale netwerk verwyder.
Op dié netwerk, Facebook en ander webwerwe word die spot sedertdien met haar gedryf oor die partytjie in Café Caprice waartydens sy en haar verloofde, die polo-speler Nicky van der Walt, en sowat 40 vriende Sondag R75000 se Franse sjampanje gedrink het.
Dié partytjie het vir omstredenheid gesorg nadat Liebenberg op Twitter beweer het sy is daar seksueel aangerand. Die hoofbestuurder van Café Caprice, Michael Mouneimne, het Liebenberg se bewering ontken. Volgens hom het iemand bloot per ongeluk aan haar gestamp, waarna sy ’n bohaai opgeskop het om “aandag te soek”.
Van der Walt het daarna ’n 19-jarige man met die vuis bygedam.
Liebenberg het Sondag omstreeks 23:20, nadat die vuiste geklap het, getwiet hulle is uit die kuierplek geskop nadat iemand haar “seksueel aangerand en haar man vir haar opgestaan het”.
Oor haar agent, Andrew Farr, se stelling dat Liebenberg-hulle nie ten tyde van die voorval dronk was nie, het Mouneimne gesê: “Sy was onder geen omstandighede nugter nie.” Hy het ook daarop gewys dat hulle mekaar selfs met sjampanje gespuit het.
Hoewel Liebenberg aanvanklik op Twitter kwaai teen die beweerde seksuele aanranding uitgevaar het, het Farr Dinsdag opnuut bevestig die paartjie gaan nie ’n klag by die polisie indien nie. “Dis vakansie. Hulle wil nou net die vakansie geniet en daarvan vergeet,” het hy Dinsdag gesê.
Twiet-twiet
- “Ek wil ook ’n polospeler wees,” het Jozua Rossouw gesê.
- “Sondag? Was dit nie Boxing Day nie?” het André gevra.
- Jannie het gesê dit is ’n openbare figuur se plig om hom of haar te gedra.
- R75000 vir sjampanje en niemand het dronk geword nie? Ek sou my geld terug vra, skryf Dana.
- Lee-Ann moet eerder tuisbly en na haar baba omsien. Ek hoop nie sy borsvoed nie.
- Die Burger