Lag vir Zuma en kie
2009-10-07 07:24
Kaapstad - Poppe van onder andere pres. Jacob Zuma, Helen Zille, Peter de Villiers, emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu, oudpres. Nelson Mandela en Tim Modise het gister lewend geword met die begin van die spotprenttekenaar Jonathan Shapiro (Zapiro) se nuwe satiriese poppespel op die internet.
Die eerste episode van ZA News is gisteroggend deur die ZA News-span by die Grand Daddy-hotel in Langstraat bekendgestel.
Shapiro en die vervaardiger Thierry Cassuto probeer sedert 1998 om die reeks op televisie te kry. Nadat die SABC onlangs weer besluit het om nie die reeks (toe genoem ZNews) uit te saai nie, het Shapiro en Cassuto besluit om ’n ander medium, die internet, te gebruik.
Die lugdiens kulula.com het ingestem om die reeks te borg, terwyl die Mail & Guardian die reeks op sy webwerf sal uitsaai.
’n Nuwe episode van ongeveer drie minute lank sal elke dag uitgesaai word. Die eerste reeks sal tot net voor Kersfees duur, terwyl ’n nuwe reeks vir Januarie beplan word.
Nick Dawes, redakteur van die Mail & Guardian, het gesê ZA News voldoen aan standaarde soos onafhanklikheid, gehalte, relevansie en onbeskroomdheid wat die koerant nastreef.
“Ek vind dit raaiselagtig dat geen van die tradisionele uitsaaiers vrymoedig genoeg was om die reeks uit te saai nie,” het hy gesê.
Cassuto het gesê hy hoop die politici sal die reeks met ’n sin vir humor ontvang en dat dit nuus vir die publiek interessant sal maak. “Ek dink dit sal mense wat nie gewoonlik ’n koerant lees of nuus kyk nie in politiek laat belangstel,” het hy gesê. “Politici wat nog nie deel van die reeks is nie, moenie aanstoot neem of bekommerd wees nie – hul beurt sal kom.”
Die stemme van die nege poppe wat reeds gemaak is, word verskaf deur drie mense, terwyl agt mense die poppe hanteer.
Besoek www.zanews.co.za of www.mg.co.za.
- Die Burger