Lady Gaga-liedjie is gagga, kla luisteraars
2011-04-20 08:30
Johannesburg - Talle Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers dink Lady Gaga se splinternuwe treffer, “Judas”, is “swak en onvanpas” en eis dat die liedjie van radiostasies verwyder word.
Dit is Dinsdag deur platejoggies en musiekbestuurders van verskillende radiostasies bevestig.
“Judas”, wat Vrydag wêreldwyd uitgereik is, is op die omstrede sanger se nuwe album, Born This Way, opgeneem.
Oorsese nuuswebblaaie het gister berig Christengroepe is glo die josie in oor die omstrede lirieke.
Suid-Afrikaners het ook nie op hulle laat wag nie.
Mark Pilgrim, platejoggie by 94.7 Highveld Stereo en 94.5 Kfm, het “Judas” Saterdag tydens die Kia Take 40-program en Maandag tydens die Afternoon Drive-program gespeel.
“Tydens die Sondagprogram was die terugvoer taamlik verdeeld,” het Pilgrim gesê.
“Saterdag was daar egter net twee mense wat gesê het hulle hou van die liedjie.
“Die res van die terugvoering was baie negatief. As dié negatiewe terugvoering bly toeneem, sal ek nie graag die liedjie wil bly speel nie,” het Pilgrim gesê.
Hy het ook laat gistermiddag getwiet dat die Afternoon Drive-program die liedjie vir eers nie meer sal speel nie omdat die stasie “duisende SMS’e” daaroor gekry het.
Ook die 94.7-platejoggie Paul Rotherham het Maandag op sy Facebook-profiel geskryf dat hy “Judas” in sy persoonlike hoedanigheid nie wil speel nie.
“Ek sukkel om te verstaan hoe die nuwe Lady Gaga-lirieke nie as beledigend geïnterpreteer kan word nie. As dit my keuse was, sou ek geweier het om dit te speel.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger