Kyk na my spruite se sitkom, tweet Zuma
2011-07-16 09:14
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma het sy amptelike Twitter-rekening waarmee hy direk met Suid-Afrikaners kommunikeer, gebruik om sy dogters se sitkom te bemark.
“Ek moedig jul almal aan om vanaand om 19:00 op kanaal 107 in te skakel vir die nuwe sitkom It’s for Life. Dit beloof om uitstekend te wees,” het die tweet van @SAPresident Vrydag omstreeks 09:15 gelui.
Gugulethu en Nokuthula Zuma, Zuma se twee dogters uit sy huwelik met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, is albei aktrises en vertolk die hoofrolle in dié reeks op DStv se Mzansi Magic-kanaal. It’s for Life is gisteraand vir die eerste keer uitgesaai en Gugulethu is een van die medeskrywers.
’n Woordvoerder van die presidensie het Vrydag aanvanklik ontken Zuma het die boodskap aan sy meer as 38 000 volgelinge getwiet. “Nee, dit kan nie wees nie.”
Maar toe sy hoor Zuma se twee dogters verskyn in die sitkom, het sy haar bedink. “O, ek sien. Dit kan wees. Ek sal moet uitvind.” Sy kon egter teen druktyd nog nie self met die president praat om die navraag te bevestig nie.
Die tweet blyk outentiek te wees, want albei Zuma se dogters – hulle is onder net vier mense wat deur Zuma op Twitter gevolg word – het ’n paar keer oor die sitkom getweet en die president bedank omdat hy dié “trots Suid-Afrikaanse produksie steun”.
Gugulethu is ’n gesoute aktrise wat die rol as sers. Bhelu Mini in die polisiedrama Interrogation Room op SABC1 vertolk het en was ook te sien as Lesedi Moloi in die sepie Isidingo op SABC3. Dit is die eerste keer dat sy en haar jonger suster, Nokuthula, in dieselfde sitkom teenoor mekaar speel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger