Kurt en Amor van lug af
2011-06-11 07:54
Johannesburg - Die sanger Kurt Darren verskyn Sondagaand vir die laaste keer as die aanbieder van die musiekversoekprogram Jukebox op kykNET.
Darren gaan ook nie meer Sondagmiddae die gelyknamige program op die radiostasie Jacaranda 94.2 aanbied nie.
Die sangeres Amor Vittone se kontrak met 94.2 gaan ook nie hernu word nie.
Wat Darren betref, het Louis van Wyk, sy nuwe bestuurder, Vrydag gesê Darren kan “doodeenvoudig nie kontraktueel onderneem om elke Sondag vir die Jukebox-programme op kykNET en Jacaranda 94.2 beskikbaar te wees nie.
“kykNET en die radiostasie vereis so ’n onderneming van hom voordat hulle bereid is om sy kontrakte te hernu.”
Van Wyk, wat vandeesweek Darren se bestuur oorgeneem het, het gesê die sanger se program is tot oorlopens toe vol.
“Kurt is baie hartseer dat hy albei die programme – op kykNET ná drie jaar en op Jacaranda 94.2 ná byna twee jaar – vaarwel moet toeroep, maar dit kan nie anders nie.”
Die heel laaste gasaanbieder saam met Darren is die jong sanger Anthonie Bougas. Die sanger Pieter Koen gaan albei programme se aanbieding by Darren oorneem. Koen het die afgelope jaar verskeie kere vir Darren waargeneem.
Wat Vittone betref, het Jenny Griesel van Jacaranda 94.2 se bemarkingsafdeling gesê dat haar kontrak nie hernu gaan word nie omdat daar verskeie veranderinge aan programme en skuiwe van aanbieders by die radiostasie gaan wees.
“Dit is maar deel van die jaarlikse hersiening van ons programskedule,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld