Kurt Darren op verhoog ná sy pa sterf
2012-12-16 11:30
Kaapstad – Kurt Darren het Saterdagaand op die verhoog geklim en gesing enkele ure nadat sy pa, Koot van Heerden (64), oorlede is.
“My liewe pa is nou net oorlede; my hart is gebreek, hy het so hard baklei. Al my vriende en musikante oral was baie lief vir hom. RIP,” het Darren Saterdagmiddag getwiet.
Darren se vrou, Dunay, het voor sy optrede by die Oesfees op Caledon gesê hy sit net in sy kamer.
“Dis vir Kurt verskriklik moeilik. Hy is baie hartseer. Hy en sy pa was baie na aan mekaar en sy pa was altyd so trots op hom. Maar Kurt is ’n professionele sanger en hy het nog nooit ’n optrede gekanselleer nie. Hy probeer altyd vir die mense gee wat hulle verwag.”
Van Heerden, wat die afgelope sewe jaar emfiseem gehad het, was die laaste maand in ’n Gautengse hospitaal.
“’n Week gelede het dit so goed met my skoonpa gegaan dat hulle hom uit intensief na ’n gewone saal oorgeplaas het,” sê Dunay.
“Drie dae gelede is hy terug intensief toe ná ’n terugslag.”
Sy sê Kurt het klaar in die Kaap geland toe hy die nuus kry dat dit baie sleg gaan en dat die dokters die masjiene wat sy pa aan die lewe hou, gaan afskakel.
“Kurt was in twee geskeur, maar hy het gesê in sy hart het hy klaar afskeid geneem.”
– Rapport