Kuns van taxi-taal in New York te sien
2011-08-20 07:57
Haar daaglikse aankruie in swaar verkeer het aanleiding gegee tot ’n unieke kunsprojek wat tans in die Museum van Moderne Kuns (MoMA) in New York uitgestal word.
Susan Woolf se kunswerke oor die spesiale handgebare-taal wat 12 miljoen Suid-Afrikaners gebruik om aan minibustaxi-bestuurders te sein waarheen hulle wil gaan, pryk nou in die MoMA.
Dit vorm deel van die tentoonstelling Talk to Me wat daagliks deur nagenoeg 30 000 mense besoek word. Op die museum se webblad is in die eerste twee weke ná die openingsaand 45 miljoen bladbesoeke aangeteken.
Luidens Woolf werk daar na raming 180 000 taxibestuurders in Suid-Afrika. Elke bestuurder het ’n aangewese roete en die roete word deur spesifieke handgebare aangedui waarop ooreengekom is tussen die taxibase en die gemeenskappe in hul gebiede. ’n Pendelaar moet dus vinnig dié tekens aanleer vir die roetes wat hy wil neem, of hy is gestrand.
Die Johannesburgse kunstenaar werk al sedert 2004 aan die projek en sy werk ook tans aan ’n multi-dissiplinêre doktorale tesis in kuns en antropologie daaroor vir die Universiteit van die Witwatersrand.
Sy het die gebaretaal ook toeganklik vir blindes gemaak in die vorm van eenvoudige, geometriese vorms wat sy self ontwerp het.
“Dit is ’n people’s culture – niemand het dit voorheen ondersoek nie. Ek mag as ’n buitestander beskou word omdat dit eintlik ’n swart kultuur is, maar ek is verwelkom omdat ek die bedryf toeganklik vir gestremde persone probeer maak.”
Posseëls van haar werk – 26 waterverfskilderye – is intussen deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor uitgereik.
Altesame 14 van haar kunswerke Taxi Hand Signs: Lingo for Blind People en Touch Teasers is in MoMA te sien.
“My grootste onderneming tot dusver is die poging om taxivervoer, -handgebare en -kultuur te verstaan en ek moes my navorsing in verskillende nuwe rigtings ontplooi,” het sy in ’n persverklaring gesê.
In 2007 het haar eerste Taxi Hand Signs-boekie verskyn. Dit is in sewe tale vertaal en sluit 26 geverfde tekens in en hul ooreenstemmende bestemmings vir mense wat kan sien én blindes.
Woolf is bekend om haar grootskaalse, vaste installasie in die buitelug vir die Mandela @ 90-tentoonstelling vir die gronde van die Konstitusionele Hof in Johannesburg. Dit bestaan uit 11 gebeeldhoude “getuies” wat skaduwees projekteer wat die woord “ubuntu” uitspel.
Dit kan elke dag tussen 10:00 en 11:00 besigtig word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger