Kunene sluit ZAR se deure
2012-01-23 09:38
Johannesburg – Die skatryk sakeman Kenny Kunene se gewilde nagklub ZAR in Johannesburg se deure gaan sluit omdat hy glo nie die huur kan bekostig nie.
Die nagklub, wat bekend geword het nadat Kunene op sy verjaardag soesji van 'n model se lyf geëet het, gaan glo na 'n ander eiendom skuif.
Volgens 'n bron kan Kunene en Gayton McKenzie, mede-eienaar van ZAR, nie die huur van hul luukse nagklub bekostig nie omdat hulle al hul geld geblaas het deur "gereeld drankies verniet aan klante te gee."
In 'n onderhoud met City Press het Kunene egter die bewerings oor uitstaande huurgeld afgelag en gesê hulle skuif na 'n ander eiendom omdat die eienaars van die huidige eiendom die gebou wil uitbrei.
"Hoe kan ek R20 miljoen op 'n projek spandeer, die plek huur en dit meubileer, net om uitgeskop te word? Ek het verlede jaar selfs 'n hysbak laat installeer sodat my klante direk van die parkeergebied na die nagklub kan gaan," het Kunene gesê.
"Ons skuif ons onderneming na 'n groter plek."
Volgens 'n voormalige werker van ZAR was die Radisson Blu Gautrain Hotel, waar ZAR se nagklub geleë is, nie op 'n goeie voet met Kunene en McKenzie nie omdat die nagklub hul klante gekos het.
"Die hotel het gely. Niemand wou meer daar gaan nie omdat hul vroue vermoed het dat hulle dan na die nagklub gaan. Mense kon ook nie meer in vrede met hul minnaresse uithang nie uit vrees datt hulle op kamera uitgevang sou word," het die bron gesê.
Erica Olivier, algemense bestuurder by die hotel, het dié bewerings ontken.
– City Press.
– Volg Nuus24 op Twitter.