Kuberpunk-wenner word SA rolprent
2011-11-29 07:00
Kaapstad – Lauren Beukes se kuberpunk-treffer Zoo City gaan in Suid-Afrika verfilm word.
Die plaaslike vervaardiger Helena Spring het pas die regte voor Amerikaanse en Britse vervaardigers se neuse weggeraap. Internasionale belangstelling in die treffer, Beukes se tweede roman, het vinnig kookpunt bereik nadat dit vanjaar die gesogte Arthur C. Clarke prys vir beste wetenskapfiksieroman gewen het.
Die stedelike fantasieverhaal speel in ’n toekomstige Hillbrow, Johannesburg, af waar die uitskot van die samelewing hul gang gaan. Die krotbuurt is bevolk met dwelmhandelaars, misdadigers en psigopate. In die hoofrol is Zinzi, ’n straatwyse anti-heldin wat gebore is met die gawe om verlore goed op te spoor. Sy word oral vergesel van ’n getroue luidier. Die dier is aan haar sy omdat sy ’n misdaad gepleeg het en dus “moreel vervalle” is. Haar werkgewer sterf onvoorspelbaar en sy moet uit nood ’n werk aanvaar: Sy word gehuur om ’n tienerster wat vermis word, op te spoor.
“Ek is in die wolke; dit is ’n wonderlike roman wat werklik aan die snykant beweeg en letterlik smeek om ’n rolprent te word,” het Spring Maandag uit Johannesburg gesê.
Julian Friedman van die Londense literêre agentskap Blake Friedmann wat Beukes verteenwoordig, meen Spring se bod was die beste in ’n besonder geestige veiling.
“Sy het ’n pro-aktiewe, skrywers-vriendelike benadering en het ’n verbeeldingryke en kreatiewe voorstel gemaak wat gewoon onweerstaanbaar was,” het Friedman in ’n persverklaring gesê. Beukes meen dit is belangrik om te besef dat ’n rolprent “ ’n ander dier is as ’n roman”. “Ek is bly dat daar vertroue in my is om ’n eerste draaiboek aan te durf, nie baie skrywers kry die geleentheid om hul romans te omskep nie.”
Sy het akteurs op ’n wenslysie, soos Djimon Housou as Benoit, maar dit is net drome. “Ek glo Zinzi gaan een van daardie sterre wees wat ontdek gaan word, sy is nog nie aan ons bekend nie. Benewens die hoofrolle hoop ek dat die prent so Suid-Afrikaans moontlik gehou gaan word.”
Spring sê daar lê nog ’n lang pad voor voordat met regisseurs of akteurs gepraat kan word. Daar gaan wel internasionaal voelers uitgesteek word. “Ek voorspel dat die rolprent die doek eers oor drie jaar gaan haal. Tans is ons besig met die belangrike eerste stap: die draaiboek.”
Sy het volle vertroue in Beukes.
“Sy is ideaal, die karakters leef in haar.”
Met 30 jaar se ervaring is Spring ’n veteraan in die plaaslike rolprentbedryf. Sy het voorheen al met regisseurs soos Paul Greengrass van The Bourne Supremacy-faam en Tom Hooper van die Oscar-bekroonde The King’s Speech saamgewerk.
Beukes het verlede week ook ’n boek-ooreenkoms vir twee nuwe boeke geteken, The Shining Girls en Broken Monsters, wat al deur uitgewers hier en in Amerika, Brittanje, Italië, Duitsland en Nederland aangevra is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger