Kuberkraker steel Gaga, Timberlake se liedjies
2011-06-17 14:44
Duisburg – ‘n Duitse tiener, wat by Lady Gaga en Justin Timberlake se rekenaars ingebreek en hul liedjies gesteel het voordat dit vrygestel is, is Donderdag tot 18 maande tronkstraf gevonnis.
Die 18-jarige seun, bekend as DJ Stolen, het die liedjies aan aanhangers verkoop.
Hy het vanaf sy ouers se huis die besigheid bedryf en is skuldig bevind op aanklagte dat hy by rekenaars ingebreek het.
‘n Ander 23-jarige man, wat ook by sy ouers woon, is ‘n opgeskorte vonnis van 18 maande opgelê. Volgens staatsaanklaers het dié twee altesaam €15 000 (sowat R145 000) verdien deur sterre voor te spring en eerste hul liedjies te verkoop.
Albei het erken dat hulle die internet deursoek het vir rekenaars wat aan musiekstudios behoort het en wat moontlik die sterre se musiek gestoor het.
Hulle het dan van ‘n program gebruik gemaak wat die kuberkraker in beheer van die studio se rekenaar maak.
Toe die polisie die 23-jarige kuberkraker in hegtenis neem het hy reeds 970 liedjies tussen Maart 2009 en Julie 2010 afgelaai wat nog nie vrygestel is nie.
Aanhangers wat gekant is teen die onwettige koop van liedjies, het die owerhede van dié twee ingelig.
- SAPA