Krieketheld AB raak verloof
2012-04-10 08:00
Pretoria – ’n 24-jarige donkerkop van Pretoria het die voete van AB de Villiers, die Suid-Afrikaanse krieketheld en kaptein, skoon onder hom uitgeslaan.
De Villiers, wat verlede jaar die leisels as die Proteas se eendag- en T20-kaptein by Graeme Smith oorgeneem het, het Sondag in Indië verloof geraak aan Danielle Swart.
Hy het haar voor die Taj Mahal, ’n wêreldwye simbool van liefde in die toeristemekka Agra, die jawoord gevra.
Die 28-jarige Protea-kaptein het verlede week na Indië vertrek om aan die Indiese Premierliga (IPL)-toernooi deel te neem.
Letitia Greyling, De Villiers se agent, het die verlowing bevestig.
“AB het Danielle Sondag in Indië gevra om te trou en sy het ja gesê. Hy is baie gelukkig.”
Maar van ’n troudatum is daar nog geen sprake nie.
Swart woon en werk tans in Kaapstad.
Beeld verneem die paartjie het mekaar sowat ses jaar gelede op Swart se pa se lodge buite Bela-Bela (Warmbad) ontmoet.
Hoewel hulle sedertdien hegte vriende is, het die liefde eers sowat ’n jaar gelede begin blom.
Swart het De Villiers in Augustus na Smith, die Proteas se toetskaptein, en die Ierse popster Morgan Deane, se troue vergesel.
De Villiers het in Maartmaand, tydens die Proteas se laaste toets teen Nieu-Seeland, die voorste plek op die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys van toptoetskolwers losgeslaan en het sy IPL-seisoen die naweek op gelyke noot afgeskop.
Hy het 64 onoorwonne lopies vir die Royal Challengers Bangalore in hul sege teen die Delhi Daredevils in Bangalore aangeteken.
De Villiers sal vandag weer teen die Kolkata Knight Riders in aksie wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld