Koos en Anton rook vredespyp
2011-04-15 07:02
Johannesburg - Koos Kombuis se beskrywing van Anton Goosen in sy boek Die Tyd van die Kombi’s( 2009) is feitelik nie korrek nie en dié kunstenaars het die hofgeding wat deur Goosen aanhangig gemaak is, geskik.
André le Roux du Toit, wat onder die naam Koos Kombuis skryf en optree, skryf in ’n brief op sy webblad die hofsaak tussen hom en Goosen is nou “finaal geskik”.
Goosen het Kombuis vroeër vanjaar vir skadevergoeding van R50000 gedagvaar omdat hy hom in die boek uitbeeld “as ’n ligsinnige persoon wat gesprekke met dooie mense voer”.
In Kombuis se brief bied hy sy “opregte verskoning” aan en sê verder hy kan verstaan dat dit Goosen kon ontstel.
In die boek verskyn die volgende paragraaf: “Terwyl ons die CD opgeneem het in Gallo se moerse ghrend studio’s het Anton heeltyd agter die editing desk gesit met ’n container van ’n dooie mens se as. Dit was sy gelukbringer. Die as was van die liggaam van een van Gallo se PR-hoofde se kleuterdogtertjie wat die vorige maand deur ’n lorrie doodgery is. Die dogtertjie se naam was Zoey. Elke keer wanneer ons ’n song klaar gerecord het, het Anton gesê: ‘Hierdie was een vir Zoey!’ Anton het die hele tyd met Zoey gepraat.”
Volgens Goosen is Zoey se dood die enigste korrekte feit in die paragraaf. Zoey was die kind van ’n persoonlike vriend; sy was nie ’n kleuter toe sy dood is nie; sy is nie deur “’n lorrie doodgery” nie en Goosen het die houer met Zoey se as by hom gehad omdat hy dit op versoek van haar ouers gaan haal het vir ’n roudiens later die dag.
“Ek het in geen stadium met Zoey se as gepraat nie en sy was ook nie my gelukbringer nie,” het Goosen gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger