Koningspaar droëbek weggewys
2011-08-22 07:02
Berlyn. – ’n Duitse hoteleienaar wat die Sweedse koningspaar nie herken het nie, het koning Carl Gustav en sy vrou, Silvia, toegang tot hul besige restaurant geweier toe hulle vir middagete daar opgedaag het.
“Ek het nie tyd om die hele dag glanstydskrifte te lees nie, so ek het nie die koningin herken toe sy vir ’n tafel vra nie,” het me. Nadine Schellenberger, eienaar van die Zum Gueldenen Stern in die stad Ladenburg in die weste van Duitsland, gesê.
Daar was ’n huweliksonthaal in die restaurant toe die koninklike egpaar Dinsdag opdaag, het Schellenberger gesê.
Sy het aan hulle alternatiewe eetplekke aanbeveel, het sy gesê.
Haar man, die sjef van die restaurant, sê hy is bang dat hulle nou ’n slegte reputasie gaan kry weens dié voorval.
“Ons is nou die idiote van Ladenburg.”
Die Sweedse koning en sy vrou, ’n Duitser wat in die nabygeleë Heidelberg gebore is, het toe maar pizza op Ladenburg se markplein gaan eet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA