Koningin het nog nie Kate se ouers ontmoet
2011-01-23 10:06
Londen - Brittanje se koningin Elizabeth II sal nie Kate Middleton se familie ontmoet voor die dag wat sy met prins William trou nie, het die Sunday Times berig.
Al is die koningin die amptelike gasheer en al gaan die uitnodigings in haar naam uit, het sy geen planne om die Middletons voor 29 April te ontmoet nie, het die koerant berig.
William, wat tweede in lyn tot die troon is, gaan met sy universiteitsliefde van agt jaar in Londen se Westminster Abbey in die eg tree.
“Dit is nie dat sy hulle afjak nie. Dit is net dat die koningin nog nie die behoefte gevoel het om Middleton se ouers te ontmoet nie,” het die koerant ‘n woordvoerder van Buckingham Paleis aangehaal.
“Op die huidige stadium is daar geen planne vir haar om hulle voor die troue te ontmoet nie, maar indien sy besluit om hulle wel te ontmoet, sal dit ‘n privaat saak wees.”
Die Middletons bestuur ‘n partytjie-beplanningsbesigheid in die suide van Engeland.
Hulle het al William se pa, prins Charles, en sy vrou Camilla ontmoet, het die Sunday Times berig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP