Komediant strek toneelspiere
2010-05-27 09:19
’n Komediant sit op ’n seepbel wat net die gehoor kan laat vlieg. Of laat bars.
Dít weet Alan Committie uit ondervinding.
As hulle lag, pomp die bloed deur sy are. As hulle hom stom aanstaar, verander dit in ys.
Hy vertel hoe hy en sy mede-akteurs onlangs met ’n opvoering van Boeing Boeing in Johannesburg voor ’n gehoor van 89 mense net vier keer effense laggies kon uitlok.
“Ek weet nie wat gebeur het nie. Dalk het hulle vooraf besluit om ons eenvoudig te haat,” bespiegel hy.
Dis moeilik om te glo dat gehore Boeing Boeing, tans in die Theatre on the Bay in Kampsbaai te sien, nie snaaks vind nie. Die akteurs – en Committie in besonder – is op hul stukke in hierdie klug.
Committie was lanklaas saam met ander akteurs op die verhoog. Hy is eintlik doenig as skerpskertser en vir sy optredes in eenpersoonstukke. Hy was al 380 keer die grotman in Defending the Caveman.
“Dis heerlik om met iemand anders as jyself agter die verhoog te kan gesels,” merk hy skertsend op.
“Dis heerlik om ander toneelspeel-spiere te kan gebruik. Ek is gelukkig dat ek die kans kry om heen en weer tussen ’n span en my eie werk te kan bons.”
Hy doen graag klugte en hoop hy sal in die toekoms meer die kans kry.
Hy sou veral graag weer in Noises Off wou speel.
Eersdaags is hy die seremoniemeester in die eerste twee weke van die jaarlikse Vodacom Funny Festival, wat van 7 Junie tot 11 Julie in die Baxter-teater gehou word.
Gehore sal hom weer in Augustus in Defending the Caveman kan sien en in September bied hy sy eenpersoonstuk Dick and I, sy eie weergawe van Shakespeare se Richard III, aan. Albei sal in die Theatre on the Bay opgevoer word.
Hy glo dat niks in komedie onaantasbaar is nie. Dit moet net vir die regte gehoor aangebied word.
Tog beskou hy homself eintlik as ’n baie “ordentlike” komediant.
“Ek skerts oor dinge soos grootword en wat my laat lag. Ek vloek nie en ek hou my uit die poltitiek. Meestal.”
As komediant sien hy die wêreld dikwels uit ’n heelwat meer verwronge hoek as ander mense.
“Selfs wanneer ek baie kwaad word, sien ek iets snaaks in die situasie. Daar is soveel lagwekkende dinge om ons. Suid-Afrikaners behoort baie meer te lag. ”
Boeing Boeing is nog tot 5 Junie te sien.
Bespreek by 021 438 3301.