Komediant in pekel oor uitlatings
2009-12-01 21:46
Rio de Janeiro - Die Amerikaanse komediant Robin Williams sal Rio de Janeiro dalk maar van sy lysie van moontlike vakansieplekke moet skrap.
Inwoners en amptenare van dié Brasiliaanse stad is ontsteld oor uitlatings wat die komediant tydens ‘n onlangse verskyning op die laataand kletsprogram, Late night with David Letterman, gemaak het.
Williams het gesê die enigste rede hoekom Rio die bod vir die 2016 Olimpiese Spele gewen het, is omdat hulle “50 ontkleedansers en ‘n pond kokaïne” gestuur het om met Chicago se Olimpiese-groep, wat Michelle Obama en Oprah Winfrey ingesluit het, mee te ding.
Williams se uitlatings is herhaaldelik op nuusprogramme regoor Brasilië uitgesaai, terwyl die burgemeester van Rio de Janeiro gesê het Williams is net jaloers op dié stad se prestasie.
Rio se Olimpiese Komitee het gesê hul prokureurs sal probeer vasstel of regstappe teen Williams moontlik is.
Sapa-Ap