Klum: 'Ons het uitmekaar gedryf'
2012-01-23 08:20
Los Angeles – Die supermodel Heidi Klum, wat bevestig het sy en haar man, die sanger Seal, gaan skei, het in 'n verklaring gesê hoewel hulle steeds baie lief is vir mekaar, het hulle uitmekaar gedryf.
Volgens TMZ sal die Duitsgebore Klum (38) hierdie week egskeidingsdokumente by ‘n hof in Los Angeles in dien.
Hulle het 'n verklaring aan People vrygestel en bevestig dat hulle gaan skei.
"Terwyl ons sewe liefdevolle, toegewyde en gelukkige jare van ons huwelik geniet het, het ons ná 'n sielsontdekking besluit om te skei.
"Ons het die diepste respek vir mekaar regdeur ons verhouding gehad en is steeds baie lief vir mekaar, maar ons het uitmekaar gedryf.
"Dit is 'n vriendskaplike proses en ons beskerm die welstand van ons kinders veral in hierdie tyd.
"Ons bedank ons familie, vriende en aanhangers vir hulle ondersteuning. En vir ons kinders se onthalwe waardeer ons dit dat julle ons privaatheid respekteer."
Die paartjie het ontmoet terwyl Klum swanger was met haar dogter Leni (7) van ‘n vorige verhouding met die Italiaanse sakeman Flavio Briatore.
Klum en Seal het drie kinders saam Henry (6), Johan (5) en Lou (2).
Die laaste fotos van die paartjie saam was op Twitter geplaas terwyl hulle in Aspen vakansie gehou het, het die Daily Mail berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.