Kleurpalet by Kaapstadse modeweek te sien
2011-07-13 14:00
Kaapstad – Die Kaapstadse modeweek, die African Fashion International (AFI), skop die week by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) af.
Die modeweek begin op 14 Julie en duur tot Saterdag 16 Julie.
Soos verwag sal groot name in die modebedryf soos Gavin Rajah, Fabiani, David Tlale en Habits die geleentheid kry om hul Lente/Somer-2012 skeppings ten toon te stel.
Om die modeweek af te skop sal ‘n gratis AFI Foschini Fastrack-dag in samewerking met die Kaapstadse Moderaad op 13 Julie aangebied word. ‘n Foschini-internskap van R100 000 is op die spel en sal aan gelukkige mode- of nagraadse studente gegee word om hul loopbane ‘n hupstoot te gee.
Die ontwerper Gavin Rajah gaan modegangers Donderdagaand ‘n lewe met luukshede laat ervaar wanneer hy sy skeppings tentoonstel. Rajah het helder kleure en tekstuur vir sy skeppings gebruik en het baie aandag aan detail gegee omdat hy alles perfek wou hê.
Modegangers sal tydens Rajah se vertoning ook met Lindt-sjokolade bederf word. Gaste sal ook ‘n voorsmakie kry van wat hulle by sy nuwe winkel, wat binnekort in De Waterkant in Kaapstad oopmaak, kan verwag.
Michelle Ludek, een van die mode-ontwerpers wat reeds in haar derde agtereenvolgende jaar by die die modeweek te sien is, het gesê mense wat haar vertoning gaan bywoon kan ‘baie kleur’ verwag.
“Ek het ook saam met die plaaslike kunstenaar Gillian Waldeck gewerk en sy het my uitrustings met handgedrukte patrone versier.”
Daar sal ook ‘n paar nuwe mode-ontwerpers te sien wees soos Danielle Margaux, Dr Rey, Lisp, Thula Sindi en Nucleus.
Ongeveer 700 mense word by elke modeskou verwag.
Diegene wat die modeweek by Kiks wil bywoon moet gou spring. Kaartjies kan by www.webtickets.co.za gekoop word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24