Kingsolver wenner van Holbrooke-prys
2011-08-08 08:05
’n Prys wat die krag van letterkunde om vrede te bevorder vier, is ter ere van die ontslape Amerikaanse ambassadeur Richard Holbrooke hernoem.
Die skrywer Barbara Kingsolver is die eerste ontvanger daarvan.
Die prys was voorheen bekend as die Dayton- literêre vredesprys vir lewenslange prestasie.
Dit is geïnspireer deur die Dayton-verdrag vir vrede in Bosnië.
Holbrooke het dit in 1995 op die Wright-Patterson-lugmagbasis naby dié stad in die suidweste van Ohio, VSA, bemiddel.
Die stigter van die prys, Sharon Rad, het gesê die mense in beheer van die prys wil Holbrooke vereer vir sy internasionale rol in die soeke na vrede.
Die Amerikaanse diplomaat (69) is verlede Desember ná chirurgie oorlede.
Kingsolver sal die prys op 13 November in Dayton ontvang.
Die Richard C. Holbrooke Distinguised Achievement Award, soos dit nou heet, het ’n geldwaarde van $10 000 (sowat R67 800).
Kingsolver het aan AP gesê sy is mal daaroor dat die organisasie eer betoon aan dié soort hoër waarde van letterkunde – om medelye te skep.
“Vir die duur van ’n roman ervaar ons iemand anders se lewe; die skep van empatie vir die teoretiese vreemdeling kan vrede bevorder.
Jy kan nie iemand met ’n stok oor die kop slaan en vrede maak nie; jy doen dit wel deur mense te oortuig dat vreemdelinge se lewe geld en uit eie reg gelykstaande aan hul eie is; dit is wat letterkunde vermag.”
Kingsolver het gesê sy is “verbaas en baie gelukkig” om gevoeg te word by vorige wenners soos die wenner van die Nobelprys vir vrede Elie Wiesel, die ontslape skrywer Studs Terkel en Taylor Branch, wat die Amerikaanse burgerregtestryd opgeteken het.
Onder haar romans wat pryse gewen het, tel The Poisonwood Bible oor ’n Amerikaanse gesin in postkoloniale Afrika en The Lacuna waarin die lewe van ’n jong Mexikaans-Amerikaanse man in ’n 20ste eeuse era van radikale politiek, wêreldoorlog en vrede oor kommunisme gevolg word.
Kingsolver het ook niefiksie geskryf oor onderwerpe soos 9/11 en hoe om jou eie kos te verbou.
Holbrooke se weduwee, die skrywer-joernalis Kati Marton, sê die prys is ’n baie spesiale eerbetoon aan hom.
Sy het Dinsdag gesê sy is bly oor die wenner, van wie se skryfwerk sy gesê het dit weerspieël Holbrooke se geloof in “humanisme en die vatbaarheid vir verbetering van die mensdom”.
Die wenners van die fiksie- en niefiksieprys sal later bekend gemaak word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP