Kinders het stryd vir Michael Jackson se lewe aanskou
2011-09-29 09:06
Los Angeles – Michael Jackson se twee oudste kinders het gesien hoe paramedici desperaat probeer om hom by te bring.
Faheem Muhammad, Jackson se hoofsekuriteitswag, het Woensdag dié skokonthullings op die derde dag van dr. Conrad Murray se verhoor gemaak.
Murray, Jackson se persoonlike dokter, het skuld op ‘n aanklag van onvrywillige manslag ontken.
Jackson het in Junie 2009 by sy gehuurde huis in Los Angeles gesterf.
Muhammad het aan die hof vertel Prince en Paris het gesien hoe Murray, tesame met ‘n ander lyfwag, probeer om hul pa by te bring nadat hy sy bewussyn verloor het.
Volgens hom het hy gevoel hulle moes die kinders uit die kamer, weg van die aaklige toneel, neem.
“Paris was op die grond en het gehuil terwyl haar broer geskok was en ook net gehuil het.”
Muhammad erken hy het aanvanklik nie die kinders in die deur sien staan toe hy by die kamer aangekom en Jackson se lewelose liggaam in die bed gesien het nie.
Hy het aan die jurielede gesê hy het onmiddellik geweet Jackson is dood.
Murray word daarvan verdink dat hy die sterk verdowingsmiddel Propofol aan Jackson gegee het wat tot die sanger se dood gelei het.
Die saak duur Donderdag (vandag) voort.
– Contact Music.
– Volg Nuus24 op Twitter.