Katy Perry trek uit herehuis
2012-01-13 09:45
Los Angeles – Die sangeres Katy Perry het uit die herehuis wat sy saam met haar man, die Britse komediant Russel Brand, gedeel het getrek.
Daar was aanvanklik geglo dat Brand, wat verlede maand egskeidingsdokumente by 'n hof in Los Angeles ingehandig het, die een gaan wees wat hul eiendom van VSA $6,5 miljoen (sowat R52 miljoen) gaan verlaat.
Perry het glo slegs 'n paar kilometers weg van hul huis in Los Feliz, Kalifornië getrek.
Sy het glo 'n huis van VSA $1,9 miljoen (sowat R15 miljoen) gekoop wat uit vyf slaapkamers en vyf badkamers bestaan. Dié huis is glo net tydelik totdat sy 'n plek kry waar sy permanent kan woon, het die webwerf X17 berig.
Sedert Brand op 30 Desember vir Perry om 'n egskeiding gedagvaar het, woon hy in sy tuisland in die Verenigde Koninkryk.
Die paartjie is in Oktober 2010 tydens 'n intieme seremonie in Indië getroud.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.